Microsoft se Paul Allen befonds olifanttelling regoor Afrika
Gerrit Rautenbach
5 Dec 2013

Toe die wêreld hier nog jonk was en die horison wyd en oop, sing Johannes Kerkorrel in Halala Afrika en wat ’n mens met sekerheid oor daardie tyd kan sê is dat Afrika se wye vlaktes toe miljoene vredige olifante gehuisves het. Daar was baie plek vir hulle en ivoor was nog nie witgoud nie.

Enorme bevolkingsaanwas en gepaardgaande besetting van al hoe meer grondgebied het die olifante meer en meer in ’n blik begin druk. Maar niks het hulle so verwoed begin knou nie as die feit dat die mens soveel waarde aan hul ivoor begin heg het. Die uitwissing het meedoënloos begin toeneem.

Eens het olifante vry geloop in 46 Afrikalande. Vandag is daar olifante oor in 35 lande, maar in 20 daarvan is die getalle minder as ’n 1 000 elk. Hul vry beweegruimte is verminder tot 15 persent van Afrika se totale oppervlak. Maar 15 persent is steeds baie, baie groot.

Afrika se olifante in ’n krisis en iets moet nou dringend gedoen word om hulle te red. Die probleem is niemand weet hoeveel olifante daar regtig oor is nie.  Daar is beramings dat dit iewers tussen 400 000 en 650 000 is.  Wat ons wel weet (omdat die karkasse getel kan word) is dat daar nou jaarliks 40 000 olifante gestroop word vir hul ivoor. Maar om daadwerklik te begin om die probleem om te keer verg die antwoord van een kritieke vraag: Hoeveel olifante is daar regtig oor in dié groot kontinent?

Gelukkig is daar ’n man met net so groot hart. Paul Allen, ’n stigterslid van Microsoft, het aangekondig dat sy familietrust ’n opname regoor Afrika gaan befonds om vas te stel presies hoeveel olifante nog oor is. Die projek staan bekend as die Pan-African Survey.

Ditsal gekoördineer word deur Elephants Without Borders (EWB) wat in Botswana is. Drie vastevlerkvliegtuie en twee helikopters gaan gebruik word om fynbeplande deursnee-vlugte oor 13 olifantlande gedurende 2014 se droë seisoen te doen. Dis om vas te stel waar die olifante op die vasteland is, waar hulle aanteel of waar verminder en wat spesifiek bedreig hulle. Die koste beloop ongeveer $8 miljoen. 

‘Ek voel geër dat Paul onmiddellik ingestem het om die opname te ondersteun,’ het EWB-direkteur Mike Chase gesê. ‘’n Natuurliefhebber soos hy weet wat is op die spel en kan met ons visie vereenselwig, want hy ken Afrika. Hy is nie ’n toerisnie. Hy praat met natuurbewaarders, bioloë, plaaslike mense en die personeel en gidse van lodges soos Abu in die Okavango Delta wat hy besit. Hy en sy suster, Jody befonds baie bewaring in Afrika waarvan min mense bewus is. Hulpersoonlikebeleggings in Afrika isongelooflik.’

‘Dinge raak al hoe moeiliker vir die olifante,’ het Allen gesê. ‘Die statistiek lyk beroerd. Ek is toegewy om die nuwe pogings te ondersteun wat betekenisvolle inligting sal verskaf om die afname van die olifante se getalle om te keer.’

Die Pan-African Survey is bekend gestel by ’n noodberaad oor onwettige ivoorhandel wat op 2 Desember 2013 in Gabarone begin het. Die beraad is bygewoon deur staatshoofde, senior amptenare en nieregeringsorganisasies wat op hoogste vlak nou poog om ondernemings van Afrikastate te kry om indringende stappe te neem teen ivoorstroping asook die betrokkenheid van verbruikerslande in Asië.

… en die groot en oop grasvlaktes

span dit toe met doringdraad

van die olifant tot die gemsbok

al die diere moes kom buig

voor die mag van die grootwildjagter

voor die mag van sy groot geweer

totdat net die stilte oorbly

totdat net die stilte heers.

Nee. Danksy mense soos Paul Allen.

Halala Afrika.

Vir meer inligting: www.elephantswithoutborders.com  en www.conservationaction.co.za.

 Gerrit Rautenbach is die stigtersredakteur van die reistydskrif Mooiloop en het die draai redelik wyd gevat deur die wêreld op soek na stories en foto’s. Hy het meer as 30 reise deur Afrika onderneem, die langste daarvan was 28 000 kilometer oor ’n tydperk van 6 maande en deur 13 lande. Gerrit werk samm met Conservation Action Trust www.conservationaction.co.za